BULSHOEKDAM

'n Webtuiste vir alle liefhebbers van Bulshoek, Clanwilliam en omgewing

Hoekom word petrol met R1.50 verlaag net na die vakansie?

O Jafta, My Jafta!!

Ek onthou jou soos jy in die pad afstap met jou skraal skouers en reguit voetval. Ek onthou jou paar groot woorde geoefen om korrek uitgespreek te word op die perfekte oomblik. Ek onthou jou vriendelike groet met ʼn effe van ʼn kopknik. Ek onthou jou ongeëwenaarde vermoë om ʼn faktap trekker agteruit te ry met sleepwa en al. Ek weet jy is werklik die enigste ou wat ek ken wat ‘n bos kon snoei om soos ‘n boom te lyk. Ek onthou jou somtydse hakkel. Ek weet ook dat as gevolg van jou ongeletterdheid, jou absolute onvermoë om gedagtes in woorde uit te druk, het jou werklike intelligensie, vir so baie verborge gebly. Jy was werklik die hoeksteen van De Hoek.

Die frustrasie wat in jou are gegloei het met mense wat jou nie verstaan nie het somtyds wild aan jou slape geklop. Watter paaie moes jy deur jou eie kop stap om by die vullishope van jou lewe uit te kom? Hoe eensaam, vreesbevange, angstig was jy toe jy daar alleen voor die trekker gaan lê het? Hoeveel keer het jy omgedraai weg van daai selfde paaie sonder dat enige iemand eers geweet het waar jy in jou slapelose nagte wandel ? Het jy ooit met iemand probeer praat? Het iemand ooit probeer luister? Het iemand ooit gevra: “Hoe gaan dit met jou Jafta?” Veral na jou persoonlike seerkry. Hoe koud en eensaam was dit op die bed van vlekvrye staal daar in Vredendal se lykshuis? Hoe eensaam was jou begrafnis? Wie was daar? Nee sê liewer wie was nie daar nie? Het hulle geskitter in hulle afwesigheid? Was hulle toe wel Sondag op die kerk banke? Hoe stil is jou graf nou? Het jy rus gevind my vriend, my broer? Ai, Fok weet, ek sukkel nog steeds na amper vyftig jaar om my eie mense en menswees te verstaan. Ek vir een sal jou mis O Jafta, My Jafta.

So waar as wragtig, ek ken nie vir jou nie.

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck met 82 mans en 8 vrouens hier in Tafelbaai aangekom. Wie van julle het al gedink dit is sommer moerse verdag? Onder die agt vrouens was sy eie vrou ingesluit. So ek wil nie regtig weet hoe dit op daai skuitjies gegaan het met daai paar Hollandse juffers en die klomp mans nie. Nog erger is die feit dat 130 manne dood is op see en ’n verdere 19 in die eerste winter hier aan die Kaap. Daai vrouens kon hulle klompe vol staan. Dit is verseker.


Vir die van julle wat dit nie geweet het nie, hier aanvaar ek sommer dit is die meeste van ons wat onder apartheid se geskiedenis boeke groot geword het, ou oom Jan was’n regte skelm, ‘n ware Afrika politikus nof voor hy in Afrika aangekom het. Terwyl hy daar in Tongking-Vietnam gestasioneer was, het hy sowaar as wragtig groot klompe geld gesteel van die VOC. Vir sy straf, as mens dit nou straf kan noem, is hy toe na die onderkant van Afrika gestuur met net een baie onduidelike opdrag. “Gaan spyker Afrika wit van onder af boontoe”. Ek weet dit staan nêrens aangeteken nie maar kyk met so klomp mans, as ons nou die dooies bytel, is dit mos net feite dat 212 manne en 8 vroue nie ’n gesonde buitepos hier sou vestig as daar nie bymotiewe was nie. Net so vir die wis, kan julle nou sien dat dinge het nog nooit verander nie. Selfs vandag nog word skelm politikusse, dit is nou die wat uitgevang word, op lang oorsese vakansies gestuur onder die vaandel van ambassadeur of goewerneur soos in daai dae. Om terug te kom by my storie. As julle nooit besef het hoekom daar saam met Jan van Riebeeck so baie mans en min vrouens aangekom het, sowel as oom Jan se drakoniese slawe wette, nou weet julle. Die manne was hier met ’n missie en ’n visie.

Met al die sterftes onder die bleeksiele het Oom Jan sommer vroeg al laat weet hy het versterkings nodig uit Holland. Daar was geen manier wat die manne kon presteer onder die Afrika son soos onder die wol komberse in die koue winters van Europa nie. Ongeag van lekker skaap tjoppies en oulike bruinboudjies kon die manne net nie bybly nie. Hier was ook net te veel ander afleiding. Visvang, branderplankry, jag en kerke met politieke motiewe stig, of is dit dalk nou anders om? Dit is met al die dinge dat groot, groot oupa grootjie in 1735 uit Holland hier geland het as deel van oom Jan se operasie “Verligting vir Afrika” . Nou soos dit enige ordentlike Landman sou betaam het Oupa sy staatsgegewe pligte nagekom en sommer ’n klomp kinders gehad in ’n baie kort tydjie met twee slawe vrouens. Dis nou ons groot, groot ouma grootjies of stammoeders soos die slim mense hulle sal noem.

Die slegte ding van oupa is dat hy sommer jonk dood is soos die meeste bleeksiele hier aan die onderpunt van Afrika aan een van verskeie natuurlike oorsake onder ander hartversaking, oorlog teen die Engelse, geweldadige huismoles of dronk onderonsies met wilde diere. Daar was dus sommer ʼn klomp middel geslagte om weer bietjie van die “swart” bloed uit te teël. Veral toe die Engelse tannies, na die oorlog, ons eensame oupagrootjies begin jammer kry, het. Dit was na die ongelukkige glipsie in die konsentrasiekampe toe daar teveel vroue gesterf het om in die plaaslike mans se behoeftes te voorsien. Die verdunning of uit teling was net genoegsaam dat die vorige regering sommer met die blote oog kon sien my oupa en ouma was “spierwit” blank. Dit was met die wat hulle begin het om mense in boksies te druk oor wie is dan nou OK en wie is dan nie. Oupa het nogal altyd gesê: “Die wiel sal draai my kind” en wragtig kyk dit het. Na amper veertig jaar van ongemaklikheid in kerke, skole, die broederbond en met die mense aan die ander kant van die spoorlyn is die wat OK was nie meer OK nie en die nie-so-OK is nou sommer weer baie OK. As dit nie vir daai dom donnerse regering was nie, was my SEB status ook nie so min werd vandag nie. Nou ja, ek het seker maar bietjie voorregte gehad as gevolg van die verbleikte swart vel en Hollandse van, dat ek nie te veel gekla het nie. Jy weet mos die witbrood onder die arm ding. Verskoon asseblief die toevallige gebruik van witbrood.


Sowaar as vet ondek my vrou toe ook tot groot verbasing dat haar voorsate eintlik Spaanse Jode was en nie Duitsers soos oorspronklike deur haar ouers vermoed is nie. As gevolg van ons voorouers se rondspyker en so seker maar ons eie sin ook, moet ons nou maar net eenvoudig aanvaar dat ons kinders verbaster is met bloed wat enige straat brak na tannie Suzie se opreggeteelde Chihuahua laat lyk. Afkomstige uit die adelstand van alle adelstande.


Met die dat ek nou die dag, weereens ʼn kennis by die dam, neerhalend hoor praat oor een van my donkerder bloedbroers, dog ek so by myselwers. Ek erken tenminste wie ek is. Miskien moet jy dalk net oppas vir wie jy sê: “jou oumagrootjie se oumagrootjie se ma se moer.” Jy vloek dalk ook net een van jou verskeie voorsate. So, voordat jy my dalk ooit jou vriend wil noem net omdat ons toevallig al twee ʼn plekkie by die dam het en eienaardig genoeg na al die jare se verbastering ook dieselfde velkleur het wil ek net vir jou sê:

Wag net so ʼn bietjie...wie is djy nou eintlik weer? “

Kul jou hier, kul jou daar en siedaar.

Of sal ek liewer sê: “nou sien jy dit, nou sien jy dit nie – nee wag, daar is dit, so wragtig waar weer”. Dit is toe wat met die waterponies gebeur het by Bulshoekdam. “Wetgewing” is eensklaps aangekondig dat die goed verban is. So vir ʼn rukkie het ek gedog daar is na alles tog ʼn mate van regverdigheid in die lewe en toe ewe skielik toe is hulle sommer weer so in oorvloed daar. Nou ja, ek het nie die OEV se standpunt gehoor na die mislukte watergreep nie maar ons moet vir nou eers aanvaar waterponies is daar om te bly. Nou almal weet sekerlik na aanleiding van my vorige skrywe dat ek en my hond nie ooghare het vir ʼn waterponie nie maar ek het tog so effe van ʼn ernstige probleem met wat hier gebeur het. Na ons onsuksesvolle aansoek vir ʼn permanente slalombaan en die manier waarop dit gehanteer is, bestuurde demokrasie in werking,, was dieselfde opsie nie beskore vir die manne met die blink waterperde nie. Nou moet ek dus myself afvra: “Word dinge in die vergaderinge van die OEV so gemanipuleer om die minderes of net sekere se belange te beskerm?” Ek het geen reg om te probeer antwoord nie want ek was nog nie by een vergadering teenwoordig nie. ’n Gebrek aan stemreg hou my uit sulke vergaderinge. Ek wil ek egter nie alles afskiet wat die OEV doen nie. Beslis nie. Die blote feit dat verskillende sake op verskillende maniere gehanteer was maak sekere prosesse en besluite verdag. Moet ons nie dalk vra of die OEV se tyd uitgedien is nie. Is dit nie dalk nou tyd vir ’n meer inklusiewe organisasie nie. ʼn Watergebruikersvereniging (WGV) met insette van al die verskeie watergebruikers van Bulshoekdam. Daar is baie meer rolspelers as net grondeienaars langs en op die dam. Net hierdie afgelope naweek het ek gehoor dat daar moontlik probleme kan wees met te veel stront in die dam. Sonder samewerking van almal en alle partye wat Bulkshoekdam gebruik vir watter rede ook al sal die probleem nooit reg aangespreek word nie.

Wat is in ʼn naam

Ai, was ek maar jammer vir myself toe daar besluit is ons kan nie ʼn permanente slalombaan op Bulshoekdam vestig nie. Ek is oortuig my kinders gaan al Andy Mapple se wêreld rekords eendag breek en tot die teendeel bewys word sal ek dit by glo. Jy kan mos sommer in my gene sien my kinders het wêreld rekord potensiaal. Dan is daar sommer ook ʼn klomp ander ouens langs die dam wat dieselfde ding glo. Nie net oor hulle kinders nie maar oor hulle eie ski vermoëns. Ou Jasper sê mos sommer nou die dag dat miskien met ek en hy ook weer begin professioneel ski. Ek weet nou nie van hom nie maar die sportsdokters het reeds ʼn rukkie terug al onomwonde bewys dat my arms te kort is om ʼn wêreld klas skier te word. Hulle pas nie meer so lekker om my maag nie.


Net so ietsie ter nagedagtes. Die DWARF se aanbevelings vir die grote stuk water wat nodig is vir ʼn slalombaan in hulle watersonerings riglyne is 16ha per slalombaan. Onthou ons soek net een. Hulle aanbeveling vir die grote stuk water wat nodig is vir enige kragboot wat iets sleep insluitend ʼn buiteband, skier, wakeboarder of wat ook al, is ook 16ha per boot. Met ander woorde, ʼn slalombaan gebruik niks meer water as wat benodig word vir enige ander kragboot wat iets of iemand sleep nie. Iewers maak al die argumente teen ʼn permanente slalombaan nog steeds nie sin nie. Nou ja, soos ʼn kennis eenkeer ʼn begaafde skrywer aangehaal het. Al ons diere is mos maar ewe gelyk. Party is net so ʼn bietjie meer gelyk. Verder wonder ek nog steeds of daar so bohaai sou gewees het as die baan dalk net op ʼn ander plek voorgestel is?

Iewers is daar is ʼn drol in die drinkwater.

Het julle opgemerk dat daar meer gras in die dam is. Die fyn tipe wat groot gemors veroorsaak in jou bootskroef? Ek is nie oortuig dat ek my feite reg het nie maar wat is julle gevoelens? Kom gestel ek is reg wat kan die rede wees? Ek weet dat sovêr dit my kennis aangaan al Braam se mense opgaartenke gebruik vir riool en nie septiese stelsels is nie. Ons riool word dan op ʼn baie gereelde basis weg ge pomp heelwat hoër op. Maar wat as dit nie goed genoeg is nie? Wat gebeur met Rondeberg se riool. Die vark plaas se riool? Opgaartenks onder die waterlyn soos by Hilda se tweede kamp? Die wit huise aan die oorkant? Dag hengelaars orals om die dam? Jan Dissels rivier wat deur die plakkerskamp loop? Is die welige gras dalk ook as gevolg van te veel stikstof in die water indirek weer as gevolg van al die nuwe grasperke wat orals opkom.
Iewers is daar ’n drol in die drinkwater en ons sal vinnig iets hieraan moet begin doen anders gaan mense (Waterwese) van buite af begin ingryp en dan is daar regtig meer stront as wat nodig is.

Groetnis tot volgende keer

Johan


Met nog ’n Desember agter die rug. (2007)

Vir die sensitiewe leser.

Vir die wat Bulshoek toe kom en nog steeds sensitief is oor feite en vloekwoorde, moet asseblief nie verder lees nie. Hier by Bulshoek, sit jy saam met jou dronk, dikgerookte pelle en luister na vuilgrappe, terwyl jy vir jou beste vriend se vrou oogknip, maar as jy weer voor jou rekenaar inskuif, sekerlik die tyd wanneer jy die lees, is jy mos iemand anders. Iemand baie meer preuts, iemand baie meer ernstig, iemand baie meer geleerd en iemand wat baie meer gereeld in die kerk is. Jy is deel van die leuenaars van ons samelewing. Jou tipe maak my sommer kots. Daarom sê ek ook sommer by voorbaat vir jou: Fok u en totsiens.

As julle egter minder sensitief en nog steeds ernstig oor Bulshoek is, sal julle lekker verder kan lees. Nie omdat ek lekker skryf nie, maar omdat hier hopelik iets is vir almal om aan te kou oor die volgende paar weke en of maande. Ek sal weer iets laat hoor sodra iemand kommentaar lewer, by voeg, aan sluit by 'n punt of tot ek weer lus voel om die pen op te neem. Soms moet ons mos praat, oor hierdie liefling van ons, met al haar stront en plesier verewig in een slukkie damwater net so effe getint met 'n klein bietjie whiskey.

Kom ons praat.

Soos enige nuus, sal die nuus ook gou ou nuus wees, maar feite bly feite. Die ergste is sekerlik maar as feite, soos fok-koppe, nuus begin raak, en of maak. Dan kom goeie orde tot 'n val. Dit omdat poepholle van fok-koppe base gemaak het, omdat meeste mense dalk niks gedoen of gesê het nie. Miskien dalk net te lank op vakansie was. Intussentyd, laat hoor van julle. Sit julle gedagtes neer en stuur aan. Hierdie webtuiste sal beslis oop gesprek ondersteun.

Daar donder Zuma toe wragtig die vakansie ook op.

Natuurlik nie regrig nie maar oh bliksem dit was stil, tot net voor nuwe jaar. En natuurlik gee ek nie regtig om nie want ons het goeie ski-water gehad. Die klomp Israeliete en Siener van Rensburg ondersteuners het natuurlik weer, ten minste die onderste tagtig persent, van die boerevoedselketting oortuig om blikkieskos en petrol op te gaar, bunkers te grawe en te gaan wegkruip want hier is beslis nog 'n uhuru oppad met al die stront tussen die Mbeki’s en die Zuma’s. Die petrolprys en rentekoerse het ook beslis 'n groot rol gespeel in die stiller vakansie en hier dink ek tog ons kan ook vir Mbeki en Zuma blameer. Die ouens is besig om Monopoly met ons land te speel, op 'n regte Afrika manier.

Die dwisse van Bulshoek.

Totdat jy hier gelees het en seker gemaak het jy is beslis nie een van die dwisse van Bulshoek nie, sal jy ‘n dwis bly totdat jy regmaak. My eerste klomp dwisse van Bulshoek is almal wat veiligheidsreëls verontagsaam het die vakansie. Dit sluit in: Pa’s wat toelaat dat hulle kinders sonder veiligheidsbaadjies op bote ry. Eienaars van bote sonder navigasieligte op die water in die nag, bote wat mense sleep sonder enige toesighouers. Ouers van kinders onder sestien wat kragtige waterponies en groot bote bestuur sonder toesig. As julle te donders lui of te gesuip is om julle kinders rond te ry of te sleep moet asseblief om hemelsnaam nie julle sleutels oorhandig en daardeur ander mense bloot stel aan julle kamikasi snotkoppe nie. Dronk mense wat bote bestuur. Wat kan mens nog hieroor sê behalwe,ag shit! Mense wat in jou boot se golwe speel met waterponies of rubberbote, veral as jy iemand sleep. Bliksems, bly asseblief weg. Julle gaan nog oor iemand ry.

Vierwielfietse verdien ook spesiale vermelding. As julle ou ballies julle koppe moer toe wil val is dit julle probleem, maar jou kind is jou verantwoordelikheid. Maak seker hy of sy dra 'n helmet. Mense wat rondry na agtuur in die aand. Verstaan julle nie iets van Bulshoek se stille skoonheid nie? Mense wat aanmekaar nuwe paaie probeer uitry sonder inagneming van die natuur.

Die ergste van alles is dat sommige van julle wat hier lees, sien onmiddellik jou buurman raak in my skrywe maar is net eenvoudig te dom of blind om jou self te herken hierso. Maak asseblief jou oë en ore oop. Bulshoek is weereens 'n duidelike bewys dat geld nie aan enige vorm van verstand gekoppel kan word nie. Die ironie van die saak, is dan ook seker juis, dat die met min verstand nooit sovêr sal lees nie. Maak nie saak hoeveel laptops en bandwydte hulle besit nie.

Wetcops van Bulshoek, ek vra dat julle asseblief sal optree. Dit is sekerlik super stront om op vakansie ook spietkop te speel, maar sommige dom dwisse het regtig julle goeie insig as rigtingwysers nodig. Party moet egter sommer permanent in 'n rigting gebliksem word. Ek gee nie om watter rigting dit is nie, solank dit net weg van die water af is, sal dit goed vir almal wees. Ons waardeer moerse baie wat julle doen maar vra asseblief dat julle, julle tande 'n bietjie meer sal begin wys. Julle is nie dwisse nie baai-the-way. Ek noem julle hier want ek wil hê die dwisse moet ook van julle weet, as hulle sovêr kan lees met konsentrasie..

Van die grootste dwisse hier op Bulshoek is egter daai bliksems wat 365 dae van die jaar permanente spreiligte op hulle huise en die water het. Sit af, my fok. Dink julle regtig die skelms is gepla met lig. Deesdae wag hulle vir daglig voordat hulle inbreek. Dit lyk net eenvoudig minder verdag as daar “werksmense” op 'n perseel in die dag is. Die eerste vark wat al julle ligte uitbliksem sal almal 'n guns doen. Let wel, hierdie is beslis nie 'n oproep tot oorlog nie. Ek soek geen De La Rey’ vir Bulshoek nie. Asseblief tog nie. Verstaan tog net. Julle ligte is ongelooflik irriterend en arrogant. Ons wil nie weet hoe julle huise in die nag lyk nie. Ons wil die sterre sien. Nog minder wil ons weet dat julle al die moontlike elektrisiteit wat Eskom kan verskaf, kan gebruik nie, en of dat julle rekening altyd op datum is nie. Sit liewer af asseblief.

Van klein lastighede tot ernstige aambeie.

Mense wat op die rugleuning van die stoele in hulle bote sit as hulle bestuur. As jy te kort is om oor die boeg van jou boot te sien as jy plat op jou gat in die stoel sit, dan is jy eenvoudig 'n kort gat en te kort om jou boot te bestuur. Kry vir jou 'n ander tipe boot met 'n laer boeg of laat jou vrou bestuur. As jy voel jy moet daar sit sodat almal van ons jou kan raaksien dan moet ek jou nog ongelukkig meedeel, is jou probleem meer ernstig. Gaan sien jou GP sodat die vir jou 'n voorskrif na 'n kop-dokter kan gee. As alles na 'n paar maande of jare se behandeling hopelik weer ok is en jy het nie meer die alles-oorheersende behoefte om raakgesien te word nie is jy natuurlik baie welkom terug by die dam.

Mense wat met hulle bote ploeg binne vyftig meter vanaf enige oewer af. Vir die wat nie weet wat ploeg met 'n boot is nie, dit is wanneer jy ry teen daai spoed net voor jou boot op die plein kom. Maksimum golf grote word so bereik. Nie net veroorsaak dit oewer-erosie nie maar dit oorstroom 'n klomp bote amper elke keer en verrinneweer ons jetties. Dink tog asseblief mense. Let wel. Ploeg is verbode in baie binnelandse water, binne 'n bepaalde afstand vanaf die oewer, in heelwat ander lande waar die gemiddelde IK hoër is as hier by ons. Kom ons leer tog maar van die slimmer mense asseblief.

Waterponies. Mens kry beslis hingste en merries in die goed. Niks te doen met die ry nie. Alles te doen met getalle. Die donderse goed begin aanteel soos konyne hier by die dam. Daar is ook sekerlik 'n klomp wat net eenvoudig nie meer ander weivelde oor het nie, wat nou ook hier beland het. Behalwe dat die lawaai geweldig irriterend is, glo ek is die goed net 'n ongeluk wat 'n plek soek om plaas te vind. Van al die ondiere wat my hond nog wil doodbyt langs die dam is dit net die waterponies in watter gestalte ook al, wat oorbly. Jong kinders jaag op die goed rond teen noodlottige spoed. Binnebande word rondgesleep sonder 'n toesighouer met die gevolg dat omtrent elke waterponiebestuurder se nek soos 'n uil sommer net so woeps 180° kan draai en woeps weer terug. Die probleem is steeds dat hulle net of voor en net of agter hulle kan kyk en nooit op twee plekke op dieselfde tyd nie. As pa se kinders hulle self darem so geniet op daai spoggerige nuwe binneband-ding, terwyl pa groot boepens en al op Blits se holrug sit soos 'n Eugene Marais van ouds, nogal sonder 'n hemp, dan is pa se oë mos net vasgenael op daai klein blinkgesiggie godjies van hom. Hy het nie saak met die wêreld en enige lewens van ander om hom nie. Dit is sekerlik ook die mees selfsugtigste watervoertuig wat ek nog tee gekom het. Met groter enjins as baie bote en golwe net so groot soos meeste bote, is daar selde meer as een ryer op 'n slag op so 'n waterponie. Dan lyk dit vir my hulle donder ook gereeld aspris goeie ski water op. Leer liewer ski man. Dit is groter pret of vat die goed see toe as julle nie sussies is nie. Meneer die voorsitter van Boev. As jy volgende keer 'n casting vote soek om die goed te verban van die dam. Jy het dit reeds. Praat net 'n slag met meeste booteienaars op die dam. Vir my is dit duidelik hoekom die goed reeds vanaf soveel ander plekke verban is.

My heros van 2007.

Spar, wow, wat 'n wenner. Moerse geluk aan die argitek (Mnr Colyn. ek dink so) en die nuwe eienaars( jammer ek weet nie wie julle is nie, anders dink almal weer ek is ge-bribe), met beslis die beste spar wat ek nog in was. Sorg nou net dat julle pryse reg bly en ons sal nooit weer vooraf vakansie inkopies in Kaapstad doen nie. Vir die paar suursknolle wat voel dat Spar hulle 'n regverdige geleentheid aanbied vir sinnelose, negatiewe kommentaar. Jammer, maar julle is weereens verkeerd. Haal diep asem en hou dan maar julle gedagtes vir julle self. Daar is geen noemenswaardige argitektuur in Clanwilliam se hoofstraat nie. Inteendeel, Spar stel 'n uitstekende voorbeeld van hoe 'n besigheid iets reg kan doen in 'n klein dorpie, met niks anders as geloof in die gemeenskap en besoekers nie. Dit is tyd dat die dorpsvaders hierdie geleentheid gebruik om sommer die hele hoofstraat te verbeter. Ek dink nie die straat was al oorgeteer in die twintig jaar wat ek al hier kom nie. Sterkte, vorentoe. Geluk aan dit mense wat die planne goed gekeur het. As julle nie geld onder die tafel gekry het nie was julle beslis moerse dapper. Net een ding. Dit raak bietjie verdag as Spar’re so gereeld afbrand. Ek weet die een is seker nou OK vir nog so vyftienjaar of so, maar is nogal bekommerd oor die een daar in Welgedacht in die Kaap. Gee asseblief kennis voor julle 'n revamp daar beplan.

Rondeberg en Kobus. Ek is nie seker of dit die goeie invloed van al die ou Silverstrand kampeerders is nie maar die plek begin in ’n mens se hart inkruip. Kobus, julle het 'n fantastiese job gedoen met die waterkaskenades en Oujaarsaanddans. Genugtig, die Oujaarsaanddans kon net sowel 'n Silverstrand reünie gewees het. Dit was wragtig lekker om weer al die ou bekendes te sien. Mag al die goed asseblief gereelde instellings word met ondersteuning al die pad vanaf die eerste kamp af. Spar, hopelik borg julle so bietjie pryse vir hierdie jaar se waterkaskenades of hoe sê ek nou? Kobus, nogmaals dankie vir alles man.

Aan al die ouers, pleegouers en grootouers wat soveel tyd aan hulle kinders hier by die dam afstaan. Julle is my grootse heros. Julle wat julle eie en ander kinders heeldag op en af sleep op al wat 'n ding is. Behalwe dat dit geld kos, vat dit energie, geduld, goedheid, besorgheid maar sekerlik die grootste gawe van alles. Liefde.

Groetnis

Johan Landman

Ek ken mos vir almal en is niemand se pel. Mag ons groot gedagtes deel in eenvoudige woorde. Alles geleen van David Kramer en dalk net so bietjie verdraai vir Bulshoek.

About Us | Privacy Policy | Contact Us | Links | ©2006 Eienaars van die web blad.