Baie spesiale mense van Clanwilliam
Hier wil ek graag mense of besighede uitwys wat baie spesiale diens gegee het oor die jare wat ek met Clanwilliam en omgewing deurmekaar is. Let wel, hierdie is my persoonlike ondervinding van Clanwilliam se mense. Hierdie is nie 'n advertensie vir besighede ens. nie maar as die inligting julle sal help om sekere keuses te maak dan is dit goed so.
Jan Koegelenberg (Vlei Stasie) - Het jare terug (vroeg in die 1990's) vir my en my ou hengel maat Riley van Wyk een aand gehelp om die "bearings" op my bassboot se trailer te vervang nadat dit heeltemal ineengestort het. Nie net het hy dit op 'n Saterdagaand gedoen nie maar hy het spesiale moeite gedoen om die bearings in die hande te kry. Sonder hom sou ons daardie aand nooit terug Kaap toe kon ry nie. Met min woorde het hy eenvoudig vir ons aan die gang gekry. Sy fooie vir die werk was ook ongelooflik billik. Nogmaals dankie Jan.
Die mense wat gehelp het, met ons ongeluk by Agenbagskraal - Jammer ek kan nie name onthou nie. Weereens Riley en myself met ons swartbaars hengel (ook vroeg in die 1990's). Mens leer ook nooit. En ja dit het niks met die Bass Classic te doen nie. Ons het die Sondag middag laat terug gery toe ons reg by Agenbagskraal in 'n baie groot ongeluk betrokke was. Die kar en boot was totaal afgeskryf. Daar was 'n tannie wat vir ons wate rgegee het. Dankie dit was ongelooflik wat die water gedoen het ons net weer tot ons sinne te kry. Ek wou ook, egter my boot huis toe bring aangesien ek vreeslik bekommerd was oor al my hengel toerusting in die boot. Die boer van Agenbagskraal, het die aand vir ons 'n sweismasjien en generator geleen en tot 23h00 by ons gebly terwyl ons weer die trailer aanmekaar gesweis het . Ja met die Here se genade het ek en Riley altwee redelike ongedeerd uit die ongeluk gekom. Riley kan baie goed sweis en die boer het ons gehelp sonder om enigsins te twyfel. Nadat die trailer weer aanmekaar was en die stukke van die boot daarop vas was het my pa ons met die stukke en al terug gebring Kaap toe Nogmaals dankie aan almal daardie dag.
Supa Quick - Die mense sal altyd eers 'n band probeer reg maak voordat hulle iets aan jou probeer verkoop. Male sonder tal was ek al daar met 'n band wat deur 'n klip gesny is en het hulle 'n "patch" ingesit vir R50. Hier in die Kaap sou ons seker elke keer 'n nuwe band moes gekoop het. Die diens is altyd blitsig en baie vriendelik. Dankie ook vir mense soos julle.
Koos van Zyl (Ramskop slaghuis) - Koos het die afgelope naweek weereens bewys watter ongelooflike mense is daar in die omgewing. Koos, dankie vir die heerlike spitbraai en slaaie. Die diens was van uitstaande gehalte.
Barend Strassberger (B&S) - Julle ken seker almal die sekuriteits bordjies. Nou ja, Die rede hoekom jy dit oorals sien is omdat Barend werklik goed is met dit wat hy doen. Ongeag of dit alarm stelsels is of lugreeling en een of ander huishoudelike gebruikers item. Sy diens is uitstekend en weereens gaan jy ver in die stad soek vir die tipe diens. Barend is ook altyd bereid om geduldig na ons stadsjapies se voorstelle te luister en sy opinie dan deur te gee. En ja, meeste kere is hy reg. Dankie Barend.